Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 25 NOVEMBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of d.m.v. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met diep leedwese dat die afsterwe van Bernie Ginsberg, ZS6ANU, op Donderdag 22 November 2007 in Nelspruit in die ouderdom van 71 jaar, aangekondig moet word. Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

INTEGNET GAAN OP ARRP FOKUS

SARL-HMO-BAKENPROJEKNUUS

WORKED ALL ZS TOEKENNING

NOG ‘N VOL UITGAWE VAN RADIO ZS OP PAD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

INTEGNET FOKUS OP ARRP

Vanaand sal die INTEGNET, wat om 20:00 begin, fokus op ARRP. Rainer Floesser, DL5NBZ, sal die gasspreker wees. Hy is vanaf 1976 by ARRP in Duitsalnd betrokke. Hy het later die afrigter en ARRF-bestuurder vir die DARC geword en in 1999 is hy verkies as die Voorsitter van die IARU Streek 1 ARRF-werkgroep. Hy beklee die posisie nog steeds.

Rainer gaan praat oor verskillende fasette van ARRP en hoe om spanne te ontwikkel wat internasionaal kan deelneem.

Sluit vanaand by die Integnet aan en word deel van die SARL se inisiatief om ARRP in Suid-Afrika bekend te stel. As jy gedink het jakkalsjag is genotvol, wag totdat jy sien wat ARRP alles behels. Ja, dit benodig ietwat van ‘n atletiese neiging, maar in elke kompetisie is daar ‘n afdeling vir die van ons wat dit bietjie meer rustig wil vat.

Die SARL se Presidentsnet begin om 19:00 en daarna volg die Integnet. Graham Hartlett, ZS6GJH, gaan gesels oor die nuwe RAE-opleidingsgids wat vroeg in Desember beskikbaar sal wees en ook hoe klubs eksamensentrums vir die inleidende ZU-lisensie kan word.

SARL-HMO-BAKENPROJEK TYDSBEREKENING,‘N NUWE KOPSEER WAT GOU REGGESTEL IS

"Met die bekendstelling van die SARL-HMO-bakenprojek, was ons bewus van moontlike tydsinkronisasieprobleme wat kan opduik. Dit was ooglopend dat die probleem nie ‘n groot probleem was nie”. het John Williscroft aan SARLNuus vertel. "Ons het besluit om voort te gaan en later die probleem aan te pak nadat ons meer praktiese ondervinding opgedoen het”.

Na deeglike ondersoek, is verskeie oplossings ontwikkel maar laat vaar omdat hulle of te kompleks of te duur was om op 30 en later op 60 bakens te implementeer. Nadat die span elke moontlike regstellende oplossing sistematies ondersoek het, het hulle die regte een gevind.

Die finale oplossing, wat nou implementeer word, maak gebruik van ‘n in-belprosedure met of ‘n Telkomtelefoon of ‘n selfoon, met die nodige toerusting wat by die basisstasie opgestel is. "Die regstelling is baie maklik en dit neem minder as ‘n minuut,” het John gesê.

John vertel, met baie detail, hoe die problem opgelos is. Dit is beskikbaar op www.sarl.org.za, kies ‘services’ en klik op ‘beacon project’. Dit is interessante leesstof.

NOG ‘N VOL UITGAWE VAN RADIO ZS OP PAD

Daar is nog ‘n vol uitgawe van Radio ZS op pad. As jy ‘n lid van die SARL is, besoek die webwerf en laai dit af. As jou lidmaatskap ‘n gedrukte kopie insluit, die tydskrif is in die week gepos.

In sy gereëlde rubriek “Ham Pride: Our legacies and Traditions” kyk Dave Ingram, K4TWJ, na verskeie morsekodesleutels. Nostalgie om die minste te sê! Hans van de Groenendaal skryf oor D-Star, ‘n digitale stelsel wat vinnig veld wen, veral nou dat dit suksesvol gebruik word vir boodskaphantering met noodkommunikasie. Hannes Hanekom, ZS6LW, bespreek hoe om ‘n elfmeter uitstoottoring te bou. Eddie Leighton, ZS6BNE, vertel hou jy jou eie I-Gate kan opstel. Mike Hanslow, ZS1RMS, vertel van rigtingpeiling en Ian Retief, ZS1PR/TR8, lig die sluier oor ALC in sy artikel "Wat presies is ALC, en wat maak mens daarmee?” Daar is ook die gereëlde rubrieke.

Jy wil nie hierdie uitgawe misloop nie. As jy nognie jou lidmaatskap hernu het nie, gaan jy dit misloop. As jy nognie ‘n lid van die SARL is nie, is dit nou ‘n goeie tyd om aan te sluit. Kry al die besonderhede op www.sarl.org.za. Terwyl jy daar is, sluit aanlyn aan by die SARL.

Die sluitingsdatum vir die artikels vir die volgende uitgawe, wat in Desember gepubliseer word, is Dinsdag 27 November.

WORKED ALL ZS TOEKENNING

Die doelpale van die Worked All ZS toekenningsprogram is met een groot stap verskuif. Die WAZS benodig bevestigde kontakte met 100 ZS-stasies, verteenwoordigend van alle roepareas volgens die getal amateurs in elke area.

In 2000, is die reëls van die WAZS herskryf om voorsiening te maak vir ‘n reeks toekennings bokant die intreevlak van 100. Hierdie toekennings is WAZS-200, WAZS-300 en so voorts genoem, en daar is geen beperking geplaas nie.

Met die verandering het die Pretoria Kompetisieklub bekend gemaak dat hulle trofees sal borg vir die eerste twee stasies wat die WAZS-500 vlak bereik. Dit her amper twee jaar geneem voordat WAZS-500 nommer 1 in Desember 2002 aan Chris Burger, ZS6EZ, uitgereik is. Tot nou toe was Harald Pfeffer, OE6HPD, hard besig, hy het WAZS-400 in Desember 2001 ontvang.

Die lys het nou dramaties verander. Jan Botha, ZS4JAN, het sy aansoek vir WAZS-600 ingedien, met die meerderheid bevestigings vanaf die SA-QSL-stelsel op die SARL-webwerf. Hy het ‘n ESB-endorsement behaal met oor die 600 ZS-roepseine bevestig.

Hy het ook aansoek gedoen vir WAZS-500 op 7 MHz alleen en WAZS-200 op 3,5 MHz. Die vorige rekord op 7 Mhz was ‘n WAZS-200 en nog niemand het die toekenning op 3,5 Mhz aangevra nie.

Jan het aangedui dat hy eersdaags gaan aansoek doen vir WAZS-1000. Die Pretoria Kompetisieklub het besluit om nog ‘n trofee te borg, hierdie keer vir die eerste stasie om die 1000 merk te bereik. Jan sal binnekort sy WAZS-trofee ontvang.

SLUITINGSDATUM VIR MOSIES EN NOMINASIES

Die sluitingsdatum vir mosies vir die 2008 SARL-AJV en nominasies vir SARL-raadslede is Vrydag 30 November 2007. Die mosies en nominasies moet gestuur word aan die Sekretaris, SARL, Posbus 1721, Strubensvallei, 1735 of per e-pos na secretary@sarl.org.za.

AKTIWITEIT VANUIT IRAK

Nadat amateurradio op 20 November weer wettig is in Irak, het Pierre, ZS1HF, SARLNuus verwittig dat hy op die lug is vanaf Bagdad, Irak met die roepsein YI9HF. Hy is aktief om en by 14,340 en 21,340 MHz. Kontak Pierre per e-pos by adres pierre.tromp@gmail.com om ’n afspraak te reël. Hy wil graag Suid-Afrikaanse stasies werk.

JOTA/JOTI VERSLAE

Dave Gemmell, ZS6AAW, die nasionale JOTA ko-ordinêrder vra alle radio amateurs wat betrokke was by JOTA- en/of JOTI-aktiwiteite, om so spoedig moontlik ‘n kort verslag in te dien. Dave moet die Suid-Afrikaanse verslag opstel en aan die Wêreld Padvinder HK stuur voor 31 Desember 2007. Stuur jou verslag aan davegemmell@bmknet.co.za

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die DX-toestande is gelukkig nog steeds 'n bietjie warm na Indië en die VSA.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 10, 15 en 20 m-openinge vanaf 06:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 m-openinge na Australië om ongeveer 08:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike flou 15 en 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike 15, 20 en 80 m-openinge na die VSA. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort goed oor die langer afstande te werk. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee. Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou altyd kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

KLUBNUUS

Allan, ZS6TDF, het SARLNuus ingelig dat ’n nuwe amateurradioklub in Middelburg, Mpumalanga gestig is. Die klub staan bekend as die Digitale Amateurradioklub en gebruik die roepsein ZS6DRC. Die klub het ’n 70 cm herhaler op 438,750/431,150 MHz op die lug en bedryf ook ’n Echolink- en IRLP-nodusse. Die nodusnommer is 8 432. Kontak Allan per e-pos na zs6tdf@vodamail.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vanaand – President se net en Integnet aangaande ARRP;
30 November - Sluitingsdatum vir nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir 2008 AJV;
01 Desember - Centurion ARK Toets Jou Toerusting dag;
09 Desember – PEARS HF QSO Geselligheid;
14 Desember – NARS sluit vir vakansietydperk.

SARLNuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003